google-site-verification=445qtB5pleRlxchCy3U13oBntvJ9mMK41bBxukn4IJ8
Listeners:
Top listeners:
Gold FM Your Life, Your Music
Demo Radio Techno Top Music Radio
─── 06:00 Tue, 11 Jun 2024
Polisie in Thabong, Welkom, is op soek na sewe gewapende rowers ná ’n skietgeveg by ’n vulstasie in die vroeë oggendure van Maandag (10/6).
Die petroljoggies was om 01:25 by die werk met die deure gesluit toe sewe gewapende mans die besigheid nader en hulle opdrag gee om die deur oop te maak.
Die mans het die petroljoggies beveel om die deur oop te maak en daarna geëis dat hulle die valkluis oopmaak.
“Sewe mans het vanoggend ’n vulstasie in Thabong genader en met vuurwapens toegang tot die perseel geëis. Die meeste was met pistole en outomatiese gewere gewapen,” sê Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Die twee werknemers is beveel om op die vloer te lê terwyl hulle probeer het om die valkluis te bombardeer. Hulle kon nie toegang daartoe verkry nie, omdat hulle plofstof gebruik het wat nie kon ontplof nie en het toe twee selfone en kontant gesteel.”
Toe die polisie op die toneel kom, het die verdagtes op hulle begin skiet en die polisie het teruggeskiet. Niemand het enige beserings tydens die skietgeveg opgedoen nie.
’n Saak van sakeroof en poging tot moord is vir verdere ondersoek geregistreer. Enigiemand met inligting wat tot die arrestasies van hierdie gewapende rowers kan lei, word versoek om die polisie te kontak.
Intussen soek die Vrystaatse polisie steeds na veediefstalverdagtes, nadat 26 koeie op Maandag 27 Mei uit St Helena Kraals in Welkom gesteel is. Vyf dae later het ’n speurder en ’n boer inligting ontvang oor moontlike gesteelde vee op die plaas Valkrans.
Met hul aankoms op die toneel is 15 brahmaanbeeste in die bosse gevind. Tydens hul verdere soektog het op nog vier beeste van gemengde ras afgekom en daarop beslag gelê.
“Die klaagster is ingelig en het bevestig dat die teruggevinde beeste aan haar behoort. Sy was bly oor die uitstekende werk wat gedoen is deur polisielede en haar kollega, wat ’n boer is,” het Thakeng gesê.
“Niemand is nog in hegtenis geneem nie en sewe gemengderasbeeste word steeds vermis. Die ondersoek duur voort.”
“Enigeen met inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei of die beeste kan help opspoor, word gevra om speurder Mojalefa Mmota van Odendaalsrus se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies by 078 044 7011 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.”
Written by: goldfmc1
Copyright GoldFM
Post comments (0)